in Oktober 1993 of 1994 het ek in Hermanus gaan vakansie hou saam met ‘n skoolvriendin. Baie spontaan sommer so skielik. Voor dit kan ek nie dink dat ek al in die Kaap was nie, want ek het in Pretoria grootgeword en toe laterjare was ons Johannesburg toe.
Maar op die een dag soveel jare gelede, het ek met ‘n Carling Black Label in my hand gesit in so grot affere plek in Hermanus en walvisse kyk. Dit gebeur in Oktober dat die wallies en dolfyne deurtrek met hulle kleintjies, en soos ek daar sit, het iets in my hart geroer en vir my gese ek gaan altyd baie naby aan die see bly. Natuurlik het dit net mooi niks sin gemaak nie, want paar dae later is ek terug na die dorre mid-Transvaal toe, terug Johannesburg toe om my stadslewe verder te lei. Maar ek was nie meer dieselfde nie. Daar was ‘n onrus in my wat niks behalwe water kon stilmaak nie. Ek sou ‘n stroompie ontdek nie te ver van die huis af nie, en ure lank elke week daar gaan deurbring. Met of sonder vriende. Dis ook by daai stroompie waar ek was die dag toe Johannesburg skielik een middag sneeu gekry het.
Maar nie lank daarna nie, is ek Israel toe. Woestyn toe. En nooit het dit my bygeval presies hoe baie ek by die see is nie. en nou woon ek in San Francisco, waar orals waar jy gaan jy op ‘n manier niks meer as 3 myl van die naaste water af is nie. Ek sien die see en water orals. en my hart is stil. Ek wens net dit was meer gereeld lekker warm.